Monthly Archives: August 2016

Leeupoort: Ribbetjie Braai

Wat is nou lekkerder as ribbetjie braai op Leeupoort waar jy die laaste lawaai van die fisante aanhoor wat besig is om in die bome hier by jou hul tuis te maak vir die nag.

Terwyl die vuur knetter om kole te maak kom loer die njalabul om te kyk of hy nie iets te ete van jou kan kry nie. Die sekelboshout neem `n rukkie om kole te maak en intussen sit jy met jou voete op die rand van die es want dit is altyd baie lekker om met jou voete omhoog te sit want dan ontspan jy maklik en heerlik.

 

Wat `n rustigheid!

Terwyl die hout transformer na kole kan julle nie anders as om die springbokspan te be-oordeel nie want ons is mos almal `n deskundige want die afrigters is mos amateurs. Die manne raak so weggevoer met die spankeuse dat almal die afrigter net more sal wil gaan afslag. Die vrouens doen navraag oor “ wanneer is die vleis gereed” en dit bring die manne genadiglik terug na die werkilkheid.

Die rustigheid keer terug na normaal, die vleis word op die kole geplaas, en die manne bepeins die kole terwyl die twee bosvarke so 5 meter van hulle af doodstil staan en wag vir die afval beentjies.

 

Leeupoort: Springboontjie

Hierdie boontjie spring sentimeters hoog wanneer dit begin warm word. Dit is die vruggies van die tambotieboom wat wonderbaarlike eienskappe het.

Op Leeupoort is daar op verskillende plekke woude van die tambotie bome. Die uniekheid van die boom is velerlei. Larwes ontwikkel binne die vruggie, die vruggie word ryp wat later van die boom afval en wanneer die son die grond warm bak begin die larwe binne die vruggie ruk en dit veroorsaak dat dit lyk of die vruggie begin spring. Nogal iets om te aanskou.

 

Mense word gewaarsku om nie met die tambotiehout vuur te maak nie want die olie, melksap, in die hout is giftig en jy kan baie siek word. Die hout is uiters geskik vir die maak van meubels. Die heerlike spesery-agtige reuk word vir lank behou. Die planke wat gesaag word wys die mooi patrone en kleure en dit verdwyn gladnie. Die meubels bly altyd aanskoulik.

Op Leeupoort vreet die wildsbokke die blare en die tarentale vreet weer van die sade. Die tambotieboom maak ook `n digte skaduwee waaronder die wild in die somer heerlik rus.

Hierdie boom word beskerm en die publiek mag nie die boom afsaag nie. Daarvoor sal `n permit van Natuurbewaring verkry moet word.

 

Leeupoort: Koedoe in Sitkamer

Dis nie ongewoon dat die koedoes tot binne die sitkamer agter die mense aanstap nie. Wanneer die bok iets te ete ruik volg hulle jou na waar jy hulle lei.

Vernaam in droogte tye sal die wild makker wees as wanneer daar baie groen blare in die veld is. Leeupoort is bekend vir sy mak wild en vriendelike mense.

Dit is koedoedrolletjies wat die ouens met feesdae kompetisiespoeg.

 

Hierdie produk word in die maag van die koedoe saamgestel uit hoofsaaklik blare wat die koedoe vreet. Kleiner soorte bokke het die ronde drolletjies en groter bokke het weer die bol mis soos die van `n jerseykoei. Jy kan nie laasgenoemde gebruik om mee te speog nie!!!

Leeupoort is een van die min plekke in die land waar die wild tussen die huise rondstap en vir die besoekers kuier. Die weer is wonderlik en jy kan tot laataand om die braaivleisvuur deurbring

Indien jy ook ander plekke wil besoek om diere soos leeus, renosters, krokodille ens. te besigtig kan jy dit binne `n halfuur se reis vanaf Leeupoort dit gaan beleef. Kontak Marianne 082 565 5121 epos gaangroen@gmail.com

 

Leeupoort: Doop Baba in Bos

LEEUPOORT VAKANSIES – Onder die leiding van Johan Koekemoer is die “stiltehoekie” in die bos op Leeupoort ingerig. Klein Gerhard is by die kruis gedoop waar daar `n gewyde atmosfeer in die rustigheid van die natuur geheers het.

Dink net dat mense wat in die stad woon, hul baba daar in die bos kan gaan doop. Iets besonders vir die foto-plakboek (“scrab book”) met fotos van die kruis, die doopplegtigheid en fotos van die blouwildebeeste wat daar rustig lê en herkou.