Tag Archives: Kole

Sekelboshout -Braai op Leeupoort

????????????????????????????????????

Almal kan braai maar braai op Leeupoort daar waar dit in die natuur is en jy die geluide van die bos hoor is net soveel meer ontspanne.

Die sekelboshout se kole brand langer as baie ander soorte hout met die gevolg dat jy langer by die vuur kan kuier. Daar waar jy langs die vuur sit en in die kole staar en die stilte sak toe om jou hoor jy die fisant wat in `n naby geleë boom hom tuismaak met sy tsjer- tsjer   tsjer- tsjer   tsjer- tsjerrrr.

 

Die vlakvarke kom maak seker of daar nie oorskot kos is nie. So teen tienuur die aand maak die bosvarke hul verskyning om ook te kom kyk of daar nie beentjies van die braaivleis oorgebly het nie. Hulle kou die bene asof dit macaroni is.

Die kinders wat in die sundowner swenbadjie tot laat baljaar het kom ook tot ruste en kom sit ook langs die vuur om te wag vir die stilte om saam te smelt met die rustigheid van die kole wat stadig verdof soos die aand se uurglas leegloop.

Die sekelbosvuur is nog steeds aan die brand.

Leeupoort: Ribbetjie Braai

Braai Leeupoort 310

Wat is nou lekkerder as ribbetjie braai op Leeupoort waar jy die laaste lawaai van die fisante aanhoor wat besig is om in die bome hier by jou hul tuis te maak vir die nag.

Terwyl die vuur knetter om kole te maak kom loer die njalabul om te kyk of hy nie iets te ete van jou kan kry nie. Die sekelboshout neem `n rukkie om kole te maak en intussen sit jy met jou voete op die rand van die es want dit is altyd baie lekker om met jou voete omhoog te sit want dan ontspan jy maklik en heerlik.

 

Wat `n rustigheid!

Terwyl die hout transformer na kole kan julle nie anders as om die springbokspan te be-oordeel nie want ons is mos almal `n deskundige want die afrigters is mos amateurs. Die manne raak so weggevoer met die spankeuse dat almal die afrigter net more sal wil gaan afslag. Die vrouens doen navraag oor “ wanneer is die vleis gereed” en dit bring die manne genadiglik terug na die werkilkheid.

Die rustigheid keer terug na normaal, die vleis word op die kole geplaas, en die manne bepeins die kole terwyl die twee bosvarke so 5 meter van hulle af doodstil staan en wag vir die afval beentjies.