Blouaap

BLOUAAP – Die tropgrootte van blouape is so 20- 25 en hul aanvoerder is `n dominante wyfie. Wyfies bly lewenslank in hulle oorspronklike trop. Mannetjies emigreer ten tye van die aanvang van puberteit, trek dan van trop tot trop, en spandeer omtrent drie jaar in ‘n trop voordat hulle weer aanbeweeg. Mannetjies en wyfies se hiërargie is verskillend; slegs die mannetjies van hoër rang het toegang tot bronstige wyfies. Sosiale hegtheid vind plaas deur middel van onderlinge versorging van mekaar se pelse.

Troppe het goed-gedefinieerde groepsgebiede met duidelike grense.
Wat die blouaap op Leeupoort Vakansiedorp lasting maak is dat hulle deur die diefwering klim en groot skade binne `n huis kan aanrig. Daar is mense wat hulle voer wat beteken dat hulle te mak word en mense aanval wat kos in die hand het. Hulle kan baie agressief raak wanneer dit by kos kom en dit is die rede waarom die ape kort kort besoek aflê by die plekke waar daar kos is.

Hulle het sowat 30 verskillende gebruike van hul stemme waarmee hulle kommunikeer. Soos wat hulle in die veld wei kommunikeer hulle met mekaar en waar hulle kos sien laat weet hulle die ander om nader te staan. Sodra daar gevaar is sal jy die skril geskree hoor waarna hulle almal op die hoede is.
In Ladanna, Pietersburg, is daar onlangs mense aangeval wat gehospitaliseer moes word en die rede was dat daar mense is wat vir hulle kos gee. Mense wat die blouaap onwettig aanhou as `n troeteldier moet later wanneer die aap groot is en mense beseer laat uitsit of ontslae raak.