Miskruier

Bolletjies Rol – Miskruier

MISKRUIERS – Mis word deur die miskruier gevreet. Die wyfie miskruier lê ook eiers binne in die bolletjie. Die klein miskruiertjie vreet die bolletjie van binne af.

Party mannetjies sal ’n groot stuk daarvan vir ’n miskruierwyfie aanbied, in die hoop om haar te beïndruk. Wanneer daar vars mis is, is daar groot mededinging. Hulle kom binne `n kort tydjie uit verskillende rigtings om te deel aan die koek. Party soorte miskruiers rol die mis in `n bol en rol dit dan van die groot mishoop af weg en begrawe dit elders op `n sagte plek.

Die miskruier rol sy bol in ’n reguit lyn wanneer daar nie hindernisse is nie, want dit is die vinnigste manier om weg te kom en verminder die moontlikheid dat ander miskruiers die bol sal afvat.

Die vermoë van miskruiers om mis ondergrond te begrawe, is een van hul belangrikste eienskappe. Dit lei tot beter grondvrugbaarheid en hou vlieë-getalle onder beheer. Die waarde van `n miskruier is enorm. Sou daar nie miskruiers gewees het nie, wat sou van al die mis geword het. Die sowat 14 miljoen beeste in Suid Afrika lewer 180 miljoen ton beesmis per jaar op, en dan is daar nog die groot hoeveelheid skape en ander wilde diere.

Miskruiers wissel in grootte van 1mm tot 70mm, en daar is meer as 600 verskillende miskruierspesies in Suid-Afrika. Hulle kom in ‘n wye verskeidenheid van kleure voor. Op Leeupoort is daar `n paar soorte. Die sonkappies bokant die miskruier se oë help om die melkweg vir navigasie te gebruik.

In 1970 is miskruiers van Suid-Afrika na Australië uitgevoer omdat die gifstowwe die grootste gedeelte van hul miskruiers uitgeroei het.