LEEUPOORT – Wat is nou lekkerder as ‘n braairibbetjie op Leeupoort waar jy die laaste lawaai van die fisante aanhoor wat besig is om hulle tuis te maak vir die nag in die bome hier by jou.
Terwyl die vuurtjie knetter om kole te maak, kom loer ‘n Njalabul om te kyk of hy nie iets te ete by jou kan kry nie. Die sekelboshout neem `n rukkie om kole te maak en intussen sit jy met jou voete op die rand van die es, want dit is sommer net lekker om so agteroor te sit met jou voete omhoog. Wat `n rustigheid!
Terwyl die hout transformeer na kole kan die manne nie anders as om die Springbokspan te be-oordeel nie want “ons is mos almal deskundiges” en die “afrigters is mos amateurs”. Die manne raak gewoonlik so weggevoer met sport en ander gesprekke dat hulle amper van die vleis vergeet. Dit is eers wanneer die dames navraag doen oor die vleis wat die manne terugkeer na die werklikheid.
Die vleis word op die kole geplaas en daar word na die braaivleisvuurtjie se kole gestaar terwyl twee bosvarke so vyf meter van hulle af staan en wag vir die afval beentjies, byna soos twee hondjies by ‘n braaivleis.
‘n Braaivleisvuurtjie en ontspanning op Leeupoort is voorwaar ‘n unieke ondervinding. Ondersoek gerus die beskikbare akkommodasie geriewe op Leeupoort en kom maak ‘n draai by ons wanneer jy wil wegbreek van die gejaagde besigheidslewe.