POTJIEKOS – Dis net op Leeupoort Vakansiedorp waar jy in die bos naby die stad en in die rustigheid van die natuur lekker rustig kan ontspan vergeet van die spanning daardoer in die stad. Om 12 uur Saterdag middag het Henry en sy seun Stiaan begin om die beesstert vir die potjie in orde te kry. Daar gaan `n heerlike potjie voorberei word. Dis rustig en die twee vlakvarke lê daar in die koelte van die swarthaakboompie en slaap en die njalabul staan en kyk wat daar aangaan en of daar nie so ietsie vir hom ook kan wees nie. Die sekelboshout begin vlamvat en die stoele word reggesit sodat `n ou heerlik rustig om
die vuur te kan sit met jou voete op die randjie van die es waarop die vuur gemaak word.
Die kinders baljaar in en om die sundowner swembad en langsaan word die potjie rustig in orde gebring. Die beestert-stukke word eers in die driebeen-swartpot gebraai om dit te seël . Die gebruik is om die kosse wat langer vat om gaar te word eerste in die pot te sit. Die vleis word eerste solank gebraai en die verskillende groentes word heelwat later in die pot geplaas waarna die deksel nie weer afgehaal word voor opskeptyd nie.