BROEIGEDRAG – Alfa broeigedrag kom voor by groep- of familievoëls waar daar een broeipaar is (alfa mannetjie en wyfie vermoedelik die oudste wyfie.) By sommige groepe broei slegs die wyfie terwyl die res van die familie verantwoordelik is vir die aandra van kos en later die versorging van die kuikens nadat dit uitgebroei is. Dit is komies om te sien as daar `n jongeling tussen die groep is hoe hy/sy met oorgawe sy vlerkies fladder en kla en die hele groep dra kos aan. Hulle kom in groepe van 5 tot 10 voor. Meeste van die groepe bestaan uit voëls wat familie van mekaar is, dit sluit dus die vorige jare se broeisel in.
Hierdie groepe is gedurig met mekaar in verbinding deurdat hulle onophoudelik met mekaar kommunikeer met tipiese geluide. Die Langstertlaksmanne, van onder andere Leeupoort, kom in klein swerms van tussen 5 en 10 voëls in die bosveld voor waar hulle opsigtelik op die top van `n sytak of boom sit en ook langs die paaie op drade en pale. Hulle is insekvreters en ons almal ken hulle kenmerkende roep wat soos “tilodi” klink. Vandaar ook sy Tswana naam.Hier funksioneer `n alfa mannetjie en wyfie. Die mannetjie en helpers dra kos aan vir die wyfie terwyl sy op die nes sit en roep vir kos soos `n klein voëltjie.
( Geplaas met vergunning van Die Bospatrys – Nuusblad van Leeupoort en omgewing ( www.bospatrys.co.za )