LEEUPOORT – Dis nie ongewoon dat die koedoes op Leeupoort tot binne die sitkamer agter die mense aanstap nie. Wanneer die bok iets te ete ruik, volg hulle jou na waar jy hulle lei.
Gedurende droogte tye is die wild gewoonlik makker as wanneer daar baie groen blare in die veld is. Hulle drentel dan tussen die huise rond waar daar gewoonlik meer groenerigheid is. Vrugte en groente, of graanprodukte soos mielies is dan ‘n groot trekpleister vir die diere, maar onthou dat wild altyd gevaarlik is en hulself sal verdedig indien hulle bedreig voel of skrik.
Leeupoort is bekend vir sy mak wild en vriendelike mense. Dit is een van die min plekke in die land waar die wild tussen die huise rondstap en by die besoekers kuier. Die klimaat op Leeupoort is ook wonderlik en jy kan tot laataand om die braaivleisvure kuier.
Indien jy ook ander plekke in die omgewing wil besoek en diere soos leeus, renosters, krokodille en ander wild wil besigtig wat nie op Leeupoort voorkom nie, is daar talle geleenthede binne `n halfuur se reis vanaf Leeupoort. Kontak gerus vir Marianne by 082 565 5121 indien u meer wil weet oor ander besienswaardighede in die omgewing.