NAGAPIES – Die nagapie van Leeupoort wat so groot soos `n muis is is gebiedsgebonde en hulle is normaalweg altyd saam met `n maat. Hulle is stil diertjies maar wanneer daar gevaar is waarsku hulle mekaar met `n skril geskree. Hulle grootste gevaar is uile en slange.
Hulle skuil bedags is gate in bome en snags is hulle aktief. Hulle spring van boom tot boom teen `n geweldige spoed maar op die grond is hulle maar stadig en dit is waarom hulle selde op die grond te siene is.
Hulle het besonder groot oë en dit laat hulle toe om snags goed te kan sien waar hulle van boom tot boom spring. Hulle het ook uitermatige groot ore om die fynste geluid te hoor want hulle hoor `n uil wat op hulle afduik aankom en vlug dan betyds.
Die nagapie hou van boomgom en insekte soos sprinkane en motte. Baie van die kos wat hulle eet vang hulle in die spring. Hierdie nagapies kan tot 6 meter vér spring uit `n staande posisie.
Op Leeupoort Vakansie Dorp by Ifafa 732 het verskeie besoekers al kennis gemaak met die nagapies wat vir hulle kom kuier wanneer daar gebraai word. Hulle is nie bang vir die mense nie, met die gevolg dat `n mens mooi fotos kan neem van die nagapies. Van die mense in daardie omgewing gee gereeld kos vir die nagapies.