NATUURRESERVAAT – Die uil se goed ontwikkelde rigting sin en gehoor span saam wanneer hy sy prooi vang. As hy iets hoor wat na prooi klink, draai hy sy kop in daardie rigting. Dan kos dit nog net een geritsel of ’n gepiep en die prooi is so goed as bokveld toe.
Uile (daar is sowat twaalf soorte in Suider-Afrika en 162 wêreld-wyd) vreet slegs lewende diere, van insekte tot soogdiere soos groot soos hase. ’n Paar soorte vreet hoofsaaklik visse. Hulle sluk gewoonlik hul prooi heel in. Onverteerbare dele
van hul kos, soos bene, hare en vere, word saamgepers en as klein kompakte bolletjies opgebring (dit word uilballe genoem – kraaie doen dieselfde). Die inspan van Uile is die ideale manier vir biologiese plaagbestryding en is hulle derhalwe baie waardevol in die tuin, fabrieke en boerdery. Daar is al heelwat mense wat uilneskaste uitplaas . Daar bestaan verskeie voordele daarin om uile na jou tuin of werf te lok:
- Die belangrikste is dat hulle kan help om knaagdiere en insekte te beheer.
- Die teenwoordigheid van uile beteken dat geen plaagdoders gebruik hoef te word nie en dit bespaar dus kostes.
- Dit is besonder aangenaam om snags na die geluide van uile te luister!
Nonnetjie-uile maak dikwels gebruik van uilneskaste, wat moontlik ‘n aanduiding is dat hul gebied beperk word deur geskikte plek om nes te maak. Kunsmatige neskaste sal ook deur Gevlekte ooruile, asook Bosuile, Witkoluile en Skopsuile gebruik word. Nonnetjie-uile en Gevlekte ooruile leef na aan mense en daarom sal hul neskaste aanvaar wat teen geboue of in bome opgesit is.