Springboontjie van die Tambotieboom

NATUURRESERVAAT – Op Leeupoort is daar ‘n boontjie wat sommer self sentimeters hoog spring wanneer dit begin warm word. Dit is die vruggies van die tambotieboom wat hierdie wonderbaarlike eienskappe het.

Op Leeupoort is daar op verskillende plekke tambotie-“woude”. Die boom is andersins ook bekend as “Spirostachys Africana” of die “Springboontjieboom”. Larwes van die klein grys-mot (“Emporia Melanobasis”) ontwikkel binne die vruggie, die vruggie word ryp en val later van die boom af.

Wanneer die son die grond warm bak, begin die larwe binne die vruggie knipmes bewegings maak en dit veroorsaak dat die vruggie begin spring. Nogal iets om te aanskou.

Mense word gewaarsku om nie met die tambotiehout vuur te maak nie want die melkerige sap in die hout is uiters giftig. Die rook van ‘n tambotiehout-vuur kan mens naar maak en jy kan diarree ontwikkel en baie siek word indien jy kos daarop sou gaarmaak om te eet. Die melksap was voorheen gebruik om gifpyle te maak.

Die hout van die tambotieboom is uiters geskik vir die maak van meubels. Die heerlike spesery-agtige reuk van die hout word vir lank behou. Die planke wat gesaag word het mooi patrone en is rooi-bruin met donker strepe. Die meubels is gehard bly altyd aanskoulik.

Op Leeupoort vreet die wildsbokke van die blare en die tarentale vreet weer van die sade. Die tambotieboom maak ook `n digte skaduwee waaronder die wild in die somer heerlik rus.

Hierdie boom word beskerm en die publiek mag nie die boom afsaag nie. Daarvoor sal `n permit van Natuurbewaring verkry moet word.

Daar is selfs al liedjies geskryf oor die tambotieboom. Luister gerus na die kort uittreksel van “Klein Tambotieboom” deur Laurika Rauch hierna en lees gerus ook meer oor die boom op Wikipedia.