Snorre in die Modder

NATUUR – Seker die lelikste plat vis op aarde wat ook ongelooflik lank buite die water kan oorleef. Met sy plat voorkoms en lang snorre is hierdie dier bekend as die baber wat in albei die gronddamme op Leeupoort Vakansiedorp voorkom. Wat hom ook uitsonderlik maak is die twee rye tandplate aan die bokaak. Die baber oorleef in min water en ook in die modder.

Daar word vertel dat babers van `n gronddam wat feitlik leeg was geseil en gespartel het na `n ander gronddam sowat 100 meter uitmekaar. Hulle broei in die somer wanneer die water warm is en daar ook meer kos is om van te oorleef. Hulle floreer in modderige water en plantegroei wat in die vlakwater is.

Babers vreet feitlik alles want hulle vreet onder andere ander vissoorte, insekte, erdwurms en paddas. Op Leeupoort Vakansiedorp word visvang nie toegelaat nie sodat daar voldoende kos kan wees vir watervoëls en visvangers in hierdie reservaat.