Boom-Wat-Huil

HUILBOOM ( PELTOPHORUM AFRINANUM ) – Hierdie dekoratiewe medium-grootte boom het n verspreidende kroon en is dikwels twee- tot driestammig of naby die basis vertak. Blare is dubbelveervormigsaamgestel. Blomme is helder geel in taamlike lang, opvallende, regop trosse aan takkiespunte. Vrugte is plat, eensadige peule met dun vlerkagtige buitekante. Die bas is lig tot donkerbruin, grof en in lengte gesplete.

Die boom is geskik vir tuine in Leeupoort Vakansiedorp. Die saad

ontkiem goed en boompies kan maklik oorgeplant word. Groei taamlik vinning en is bestand teen ligte ryp. Die huilboom se naam het sy oorsprong van “water” wat in die lente van bome se takke afdrup. Dit word veroorsaak deur n klein insek wat die skuimbesie genoem word. Onvolwasse besies pak saam op jong lote en verkry hul voedsel deur die sap te suig en uit te skei.

Verskeie groot spesies kom op Leeupoort Vakansiedorp voor. Die wild vreet nie die blare nie. Die hout is ook nie geskik vir vuurmaak nie. Een van die drie grootste spesies wat deur die Dendrologiese Vereniging van Suid Afrika aangeteken is kan Noord-Wes van Johan-se-Pan in die tweede paadjie op Leeupoort Vakansiedorp gesien word.