BOEREMUSIEKFEES – Dit was deur Pieter en Reina Bodenstein van die Boeremusiekgilde-tak van Leeupoort aangebied. Die fees was `n fees der feeste!!
Die gesamentlike braai Vrydagaand het afgeskop met die eerste boeremusiek aanbiedinge. Saterdag-oggend om 9uur, het die eerste optredes van die 31 boereorkeste plaasgevind, en elke 20 minute het die volgende orkes sy buiging gemaak.
Lieb Bester, Professor van Villa Rosa, het ook met sy orkes sy buiging gemaak. Op `n stadium het daar 16 trekklaviere gelyktydig opgetree.
Vanaf 9uur die oggend tot 10uur die aand was daar gedans dat die stof staan. Kinders van 15 jaar tot grootoupa en grootouma het hulle op die dansvloer uitgeleef. Orkeste het sover as Port Elizaheth gekom.
Drie skoolorkeste het ook opgetree. Kosie (6 – heel voor op foto) het ook saam met `n groep opgetree en sy konsertina het die woord gespreek. Hy het voorheen ook op TV opgetree.
Die fees is Sondag-oggend om 9uur afgesluit met ‘n diens deur Dr. Tim Jooste, met `n besielende boodskap oor positiwiteit.