GRYSE RAAD – Die sin vir humor verjaag die donker wolke in ons gedagtes. Dit verjaag vervelige swaarwigtige, onplesierige en eentonige gedagtes.
Glimlag en komplimenteer ander persone opreg en jy sal die vrugte pluk. Gewoontes, aanwensels, die manier van doen, loop, praat asook jou motiewe bepaal of jou gedagtes positief is. Skaaf betyds aan krapperighede terwyl jou oordeel en insig nog helder is sodat dit later nie al erger word nie.
Reik uit na ander mense en moenie wag dat ander jou nader nie. Doen iets wat jou gedagtes positief prikkel want dit hou jou brein gesond en aan die gang. Lag selfs vir jouself as jy ‘n onnosel ding aanvang.
Leer om ‘n musiekinstrument te speel om so uiting te gee aan jou gevoelens, of luister na inspirerende musiek wat jou opbeur en aanspoor tot nuwe hoogtes.
Gaan ontspan op Leeupoort waar jy jou aandag laat aflei deur na die mak wild te kyk wat tussen die huise rondloop. Ry rustig deur die natuurreservaat waar jy die wild sien wat rustig wei en ander wat lê en herkou aan die groen gras en blare wat hulle gevreet het.