NATUUR – Ha-ha-ha-de-dah skree die Hadeda Ibis terwyl hy opvlieg vanaf die grasperk waar hy goggas onder die grond uitgesnuffel het. Die voël se naam is afgelei van die skril en besonder uitermatige harde skree wat hy maak.
Hierdie voël moet goeie reukorgane hê of hy moet die erdwurm of kewer onder die grond hoor. Hy sal oor die grasperk loop, skielik gaan staan en sy snawel so 60 mm diep in die grond in druk en sy prooi onder die grond uitboor met daardie skerp snawel van hom. Die hadedas vreet goggas soos wurms, slakke, spinnekoppe, akkedisse en kewers wat hulle in tuine teëkom.
‘n Lekkerny is erdwurms wat onder die grond by die wortels van die gras uitgehaal word. Hulle maak hul plat neste van takkies hoog in ‘n doringboom waar dit beskerm en onopsigtelik is. Die wyfie lê gewoonlik twee eiers en dit neem so 21 dae om uit te broei.
Hulle het lang vlerke en daarmee kan hulle maklik deur nou en kronkels tussen bome en huise deurvleg. Hulle is lief om op die dakke van huise te sit sonder om ‘n geluid te maak, maar sodra hulle gesteur word skree hulle luidkeels en vlieg verward weg.
Op Leeupoort Vakansiedorp kompeteer die hadeda met die gebande muishonde vir goggas en wurms.