IT`S TIME – `n Boer het in sy bakkie gery en op `n video sy kommer oor die toestand in die land uitgespreek en gevra dat iets gedoen word. By die huis het hy dit op internet afgelaai en gebid. Toe hy sy oë oopmaak , was daar `n oproep uit Australië waar iemand dit al gesien het. Angus Buchan het die oproep ook gehoor en toe daaroor gebid. “Its Time!” het Angus in sy hart gehoor en dit wyd bekend gemaak. `n Miljoen biddende mense byeen op een plek! In die middel van Suid Afrika. Vir Suid Afrika! Dit moet binne ses weke wees! “Prakties onmoontlik!” het mense gemeen. Dit het dan `n jaar geneem om `n byeenkoms te Loftus vir
70,000 mense te reel. En hierdie keer is dit op `n plaas met geen fasiliteite nie. Angus se ondersteuningspan en die omgewing se boere spring aan die gang.
“Kollektes! “ skreeu dit toe op die internet. Maar daar was ook niks van nie. Snaakse profete op Facebook. Ander het weer groot ongelukke voorspel. Ons het egter `n buitegewone lekker en rustige heen- en weerrit sonder ongelukke, jaagduiwels of padvarke ervaar. “Daar gaan reuserommelstrooiing deur `n miljoen mense wees,” is geprofeteer. Maar op pad terug na ons voertuie toe het ons nie eers `n lekkergoedpapiertjie op die grond bespeur nie. Na die massas se vertrek was al sewentien plase skoon. Die doemprofete was oor alles verkeerd.
Daar was mense van Brasilië, VSA, Namibië, Persiese Golf, Leeupoort en ander plekke. Daar was mense te perd, fiets en dapper en stapper maar almal het gekom. Gebede is verhoor.