MAROELA – Hierdie boomspesie geniet n wye verspreiding in die bosveldgebiede van Suid Afrika onder andere Leeupoort Vakansiedorp.
Manlike en vroulike blomme word op afsonderlike bome gedra. Slegs die vroulike boom dra vrugte.
Die vrugte word in Januarie/Februarie ryp en is gesog vir die brou van bier en die stook van veral mampoer. As gevolg van die hoë pektieninhoud van die vrug is dit ook baie geskik vir die maak van maroelajellie, ‘n lekkerny, geskik om geëet te word op brood of as bygereg by wildsvleis en veral varkvleis. Maroelalikeur bekend as Amarula word gestook en bemark en is onder baie Suid Afrikaners ‘n groot gunsteling. Tuis voorbereide maroelalikeur word graag deur Leeupoort-inwoners berei.

Antilope, bobbejane, ape, vlakvarke en boksoorte soos koedoes vreet graag die vrugte wat ‘n hoë vitamien C-inhoud bevat wat vier maal so hoog is as die van die gemiddelde vars lemoensap in die RSA. Wie van die ouergarde kan nog die tonele uit Beautiful People van Jamie Uys onthou waar die diere in verskeie stadiums van beskonkenheid gefilm is tot groot vermaak van die kykers. Volgens Palgrave is dit moontlik dat diere wat die vrugte eet wat lank op die grond lê en gis tekens van dronkenskap kan toon.
Die pitte bevat een of twee sade wat hoog is in olie en protein en wat deur verskeie van die inheemse stamme, soos die Zulu en die Sjangaans, gerooster of gekook word en geëet word as lekkernye, op pap of dit word selfs deur van die alternatiewe dokters as medisyne aangewend.
Wetgewing beskerm die maroela in alle streke van die RSA.
( Dirk en Miekie Maree, Leeupoort Vakansiedorp.)