MAK WILD – So mak as wat hulle kan word, so wild kan hulle wees. Dit is dan wanneer diere sintuie ten beste gebruik om gevaar vry te spring. Jagters kan getuig hoe gou `n koedoe kan verdwyn wanneer hulle `n vreemde geluid in die veld hoor. ‘n Koedoe is seker een van die diere wat die beste kan hoor. Met hul groot ore vang hulle die geringste geluide op. Hulle draai ook hul ore in die rigting vanwaar hulle ‘n geluid waarneem.
Leeupoort Vakansiedorp se koedoes is egter besonder mak, met die gevolg dat hulle nie so sensitief is vir vreemde geluide wat hulle elders kan bangmaak nie. Leeupoort se koedoes kom maak gereeld ‘n draai by hul gunsteling chalets waar hulle mense kom opsoek vir ‘n versnapering. Dit is nie ongewoon vir koedoes om hul opwagting te maak wanneer mense so bietjie op die stoep ontspan nie.
Op Leeupoort se natuurreservaat is daar egter van tyd tot tyd ook luiperds wat die wildsbokke vang. Van die inwoners het die luiperds al gesien en hulle het al by verskeie geleenthede hul spore gekry. Die luiperds is egter baie skugter en probeer om mense te vermy.