Op Saterdag 7 Desember 2019 om 17:00 word Leeupoort Vakansiedorp se heel eerste aandmark gehou.
Omdat ek die hartklop en die asemhaling van ons geliefde Leeupoort ken, is dit so maklik om die aand te visualiseer…………………..
Aan die weste kant van die Jukskeibaan waar die mark gehou gaan word loer die ondergaande son, gekoester in die malse kleure van die oranje en goudgeel getinte horison, skalks deur die
doringbome.
Die tarentale maak luid hul troppe bymekaar om diep in die hart van die bos te gaan slaap. Die naguiltjie roep weemoedig en sonder ophou na sy maatjie. Sodra die son finaal gesak het en die skemer die bos saggies omvou, word die nagapies wakker en met hul ongelooflike, heeltemal bomenslike grasie swiep hulle van boom tot boom om hierdie nuwe bedrywigheid nuuskierig met hul blinkbruin kraalogies dop te hou. In die verte roep ‘n eensame jakkals wanhoopig na sy maat. ‘n Rooibok snork sy misnoë hardop uit. ‘n Vlakvark kom snork-snork nader en snuif naby die mieliemeel stalletjie.
Die soel aandlug word gevul met die vrolike lag van kinderstemme. Die reuk van vetkoek met maalvleis, pannekoek en wafels prikkel die smaakkliere, terwyl die mense rustig tussen die stalletjies rondkuier. Ons mark het ‘n klomp nuwe opwindende stalletjies bygekry. Kom kyk gerus vir ‘n die “op die nippertjie kersgeskenk” wat uniek is – h andgemaak – met liefde.
Hoop ek sien jou by Leeupoort se eerste aandmark!!!
( Bydrae deur Hilda )