LEKKER BLYPLEK – Leeupoort Vakansiedorp is `n ekodorp geleë binne `n natuurreservaat. `n Groot aantal permanente inwoners het daar kom aftree omdat hulle die stilte van die natuur begeer en waardeer en graag die wild wat tussen die huise rondstap geniet. Wanneer jy wil ry en wildkyk doen jy dit op jou eie en in jou eie tyd.
Daar woon sowat 500 permanente inwoners en daar is ongeveer 700 huise in die dorp. Daar is twee groot swembaddens waar jy na hartelus in die water kan gaan baljaar en verskeie huise het
hul eie klein swembaddens vir lafenis.
Verskeie huiseienaars woon elders en gaan gereeld die stilte en wild opsoek op Leeupoort. Van hierdie huise word as selfsorg- vakansieeenhede verhuur sodat die eienaars ook van tyd tot tyd daar kan gaan uitspan en ontlaai – dit is heerlik.
.