Ek Is Altyd Daar

EK IS ALTYD DAAR – Het jy al ooit ‘n krisis beleef wat jou laat vra het: “Waar is God? As Hy ‘n God van liefde is, hoekom het Hy dit toegelaat?” Die waarheid is egter dat Hy altyd dáár is. Lees Jesaja 55- 8-9.

In ‘n onderhoud met voormalige Springbokkaptein, Joost van der Westhuizen voor sy dood, het sy ou spanmaat, Kobus Wiese hom gevra wat hom positief hou ten spyte van sy liggaam wat daagliks weens die motorneuronsiekte verswak. Sy antwoord was die volgende:

“Ek het besef (nadat ek gediagnoseer is) dat ek ‘n keuse het: Ek kan myself bejammer en wag dat ek doodgaan, of ek kan lewe. Ek het nog my kinders en my ouers en so baie ander dinge om voor te lewe. Ek het besluit om ander mense bewus te maak van motorneuronsiekte omdat pasiënte en hulle families met die siekte geweldig swaarkry.”

“In my lewe was ek bevoorreg om geweldige hoogtes, maar ook die laagste in die lewe te beleef. Dit het my die mens gemaak wat ek vandag is. Aan die begin van my siekte was my vraag, ‘Hoekom ek?’ Later het ek besef, ‘Hoekom nie ek nie? Wat maak my so spesiaal om nie siek te wees nie?”

“As ek deur al die dinge in my lewe moes gaan om vandag ander te help, hoekom nie? Dít laat my glimlag.” – Joost van der Westhuizen

Joost van der Westhuizen is ‘n voormalige Springbokrugbyspeler
20 Februarie 1971 – 6 Februarie 2017
Mag ons vandag onthou dat EK IS altyd dáár is.

Verkort: Benescke Janse van Rensburg