Ekodorp van die Bosveld

LEEUPOORT VAKANSIEDORP – Hierdie unieke ekodorp, geleë binne ‘n natuurreservaat, huisves ongeveer 170 voëlspesies, 114 boomsoorte en sowat 50 soogdiertipes. Feitlik ál 520 diere loop vryelik tussen die huise rond. Die mense moet hulle deure toehou anders kom die wild, vlakvarke of bobbejane in hulle huise. Daar is `n hele aantal boomsoorte wat aangeteken is as van die grootste bome in die land.

Leeupoort Vakansiedorp bestaan uit 862 erwe, 716 woonhuise (waarvan 230 bewoon word) en het nagenoeg 650 erf- of huiseienaars; van hulle is omtrent 400 permanent hier woonagtig. Leeupoort vakansiedorp is in die Thabazimbi Munisipale gebied. 70 km vanaf Bela Bela op die Rustenburg Thabazimbi-pad, 100 km vanaf Brits en 50 km vanaf Thabazimbi.

Ná die stigting van die eerste gemeenskapsorganisasie in 1986 het verskeie ander al tot stand gekom om belastingbetalers se belange te beskerm. Die huidige Leeupoort Gemeenskapsforum is ‘n aktiewe, nie-winsgewend en funksionele liggaam wat ‘n hoogstaande bydrae tot die gemeenskap se welsyn lewer.

( Met vergunning van Callie Eloff. )