Kameelperd

Die Langnekke van Leeupoort Vakansiedorp

LEEUPOORT RESERVAAT – Die kameelperd is die hoogste lewende dier op vaste grond en het die langste nek wat tot 5,5 meter lank kan word. Die naam kameelperd is afgelei van die kameel met sy lang bene en die luiperd met sy kolle. Hulle word veral in oop bosveld oral in Afrika aangetref.

Die kameelperd se draagtyd is 14 tot 15 maande en die kalfie weeg sowat 40 tot 60 kg. Die kalf se lengte by geboorte tussen Oktober en Januarie in die suidelike halfrond is sowat 180 cm. Die koei staan wanneer die kalfie gebore word. Die leeftyd van hierdie dier is in die omgewing van 28 jaar. Die volwasse bulle veg met mekaar deur mekaar met die nek te slaan om dominansie te bepaal. Dit gebeur dat die een die ander met slegs een hou teen die grond slaan.

Volwasse kameelperde weeg ongeveer 1500 kg en kan danksy hul sterk lang bene so vinnig as 50 km/h hardloop. ‘n Kameelperd kan geniepsig raak indien hulle bedreig word. Hulle kan met beide hul voor- en agter hoewe skop en het al menigte roofdiere laat les opsê.

Afhangend van die subspesie, kan bulle en koeie soms op ‘n afstand onderskei word deur hoeveelheid hare op hul horinkies en ook hulle postuur. Die bulle het minder hare op hul horinkies, vermoedelik weens gevegte, en dominante bulle hou ook hul nekke verder agteroor om hoër  te lyk terwyl koeie gewoonlik hul nekke skuins na voor hou.

Baie wildboere hou kameelperde aan om te keer dat doringbome nie so vinnig groei en bosverdigting plaasvind nie. Die kameelperd vreet die boonste blare wat die groei vertraag asook vars peule met sade. Hulle vreet meestal doringboom-blare wat tussen die dorings afgestroop word met ‘n lang tong.

Kameelperde is ook nie in kompetisie met ander wildsoorte nie want die ander wild kan nie die boonste blare van die doringbome bykom nie. Bedags wei die diere meestal en normaalweg herkou hulle snags. Hulle vreet en sluk die blare af met daardie lang nek van hulle, en wanneer hulle dit moet herkou word die bolletjie blare al die pad weer terug van die maag opdraende na die bek toe gevoer.

Oor die algemeen dink mense dat kameelperde heeltemal stom is en geen geluide maak nie, maar mense op Leeupoort het na verneem word al verskillende soorte kommunikasie geluide van kameelperde gehoor. Daar word ook beweer dat kameelperde soos olifante deur “infra-klank” oor lang afstande met mekaar kan kommunikeer. Dit is egter nog nie wetenskaplik bewys nie.