NATUURRESERVAAT – Hierdie is seker een van die lelikste diere op aarde. Sy kop met sy klein ogies, vratte aan die kante van sy kop, die stokkies hare, lang tande wat by sy bek uitsteek en sy kop wat feitlik die helfte van sy lyf uitmaak, laat `n ou wonder hoekom hy so lelik lyk.
Wanneer `n vlakvark staan of loop hang sy stert maar wanneer hy draf of hardloop is die stert penregop. Dit is dieselfde met die klein vlakkies. Waar daar gevreet word staan die groot vark sowel die kleintjies op hul knieë.
Hulle vreet ook enige soort ding en wanneer hulle vreet klink dit soos `n vark wat vreet – lelik. Die rand van die neus is baie hard want daarmee ploeg hulle die grond los om die wortels van die bossies en gras te kan vreet.
Die vlakvark is baie vinnig en `n leeu moet sy storie ken om `n vlakvark te kan inhardloop. Verder word `n vlakvark maklik mak maar hy is ook geweldig gevaarlik met daardie skerp lang tande van hom. Menige honde wat `n vlakvark al aangevat het het tweede gekom.
Daar is al mense op Leeupoort Vakansiedorp deur `n vlakvark beseer. Wanneer jy kos in jou hande het en buite loop waar vlakvarke is, kan hulle jou maklik bestorm om die kos van jou af te neem. Wees dus baie versigtig.
Die sog is drie maande dragtig en die werpsel is vier tot ses kleintjie. Moet nie probeer om een van daardie kleintjies te vang nie, want die ma sal jou beslis bestorm en beseer.