Hang aan sy Voete

VLERMUISE – Het jy geweet dat vlermuise kan help om van die grootste pestilensies ontslae te raak? Hulle vreet muskiete, vlieë, besies, kakkerlakke en kan ook gebruik word om inseksoorte wat lastig is in vrugteboorde en gesaaides, in toom te hou. Die beste nuus is dat ‘n enkele vlermuis die helfte van sy liggaamsgewig aan muskiete per nag kan vreet. ‘n Klein groepie van 150 vlermuise kan tot 60 000 insekte per nag vreet. Baie insekte word boonop ook afgeskrik deur vlermuise se eggo-plasingsklanke. Die mis is goeie bemesting. Houtkaste kan gemaak word om vlermuise te lok.Geen chemiese seelaars moet gebruik word nie omdat die sterk reuk die vlermuise afskrik. Die buitekant van die houtkas kan swart of grys geverf word om die huisie warmer te maak en nie nader as twee meter van `n obstruksie nie. Vlermuiskaste moet in die lente opgesit moet word,ten minste 1,5 meter bo die grond en aan die noorde kant van `n muur of paal en naby `n lig wat insekte lok.
Sowat 70% van alle vrugteplante is afhanklik van vlermuise vir bestuiwing of saadverspreiding. Sonder vlermuise sou ons nie avokado’s, piesangs, dadels perskes, vye of papajas kon eet nie.

Vlermuise het `n sonarstelsel wat eggo-plasingsklanke gebruik terwyl hulle vlieg om hindernisse te vermy. Hulle sonarstelsel is só goed dat ‘n visvlermuis ‘n voorwerp wat 2 mm lank en so dik soos ‘n menslike haar op die wateroppervlak kan bespeur. Om onderstebo te hang is hulle natuur. Leeupoort het ook sy kwota vlermuise.
‘n Vlermuis is nie blind nie en kan met toegeplakte oë vlieg, maar as sy mond en ore toegeplak word en hy nie geluide kan maak nie, sal hy in alles vasvlieg. Dis die enigste vlieënde soogdiere en word tot 35 jaar oud.