HOUTKAPPER – Die kuifkophoutkapper is een van die kleurvolle voëls in Suid Afrika. Verder het hulle `n skril aanhoudende tril-geluid wat hulle maak. Daardie dik sterk snawel is skrikaanjagend en jy moet net nie dat daardie snawel jou vinger bykom nie. Hulle is ook baie dapper en verjaag maklik al die ander soorte houtkappers asook duiwe en lysters wat groter is as diekuifkophoutkapper. Dit wys ook net hoe manhaftig hierdie voël is want hulle verjaag baie maklik `n ander voël wat op `n nes sit en broei en vreet die eiers op. Verder vreet hulle insekte en vrugte. Dit is aangeteken dat hierdie kwaai voël al `n rot en slang aangevat en dood gebyt het.
Hulle is gewoonlik in pare en bly in die omgewing waar hulle makilk kos kry. Op Leeupoort Vakansiedorp wat in `n natuurreservaat is verjaag die inwoners nie die voëls en diere nie en dit is waarom die voëls en die diere so mak is. Hulle soek `n gerieflike gat in `n boom waar hulle nesmaak. Die kleintjies broei uit sonder vere en daarby kan hulle nie sien nie. Die ouers voer hulle vir so twee weke tot hul vere uitgegroei het en hul oë oop is.