Tweebeen Bobbejaan

Tweebeen Bobbejaan

BOBBEJAAN – Die bobbejane van Leeupoort Vakansiedorp loop in `n trop en kuier orals om kos te soek. Hulle is eintlik `n oorlas want mens kan nie `n venster of deur oop los nie, anders keer hulle die huis om op soek na iets om te vreet. Van hulle is al so slim dat hulle `n yskasdeur oopmaak en dan die yskas leegmaak.

‘n Uitsonderlike bobbejaanwyfie op Leeupoort stap oral op haar agterpote rond asof sy met vakansie is. Sy het blykbaar iewers aan elektriese kabels getorring en gevolglik haar “hande” afgebrand. Sy het gesond geword sonder enige mediese hulp want sy het vir almal gevlug en niemand kon haar op daardie stadium vang om te help nie. Sy sorg vir haarself en gebruik haar agterpote om die werk van haar “hande” te doen. Sy kan selfs boomklim met daardie stompies van haar.

Haar toestand lyk baie goed want inwoners gee glo vir haar kos om te eet. Sy loop so tussen die huise op haar agterpote rond en is meestal saam met die trop. Wanneer sy pateties teen ‘n skuifdeur se glas druk en die inwoners haar so van nader bekyk, kan hulle gewoonlik nie anders as om vir haar om te gee nie.

Waar mense in die sitkamer sit, het sy ook al saam met hulle op die rusbank kom sit terwyl sy almal bekyk. Haar pragtige geaardheid maak die mense se harte week. Besoekers wat op Leeupoort kom vakansie hou, kan gewoonlik nie uitgepraat raak oor die tweebeen bobbejaan wat so in mense se harte inkruip nie.