BOSSIE DIE BOSVARK – Heelwat van die Leeupoorters en besoekers aan die Bosveld, het saans so om en by 11 uur kennis gemaak met die mak bosvarke op Leeupoort Vakansiedorp. Die bosvarke soek die braaiplekke by die huise op om te kyk of hulle iets te ete kry soos braaivleis-beentjies. Bedags kruip hulle in die bosse weg waar niemand hulle sal sien nie.
Die vlakvarke en bosvarke bly gewoonlik uit mekaar se pad en meng glad nie met mekaar nie. Een van die Leeupoort se inwoners moes egter
voorheen na `n bosvarkie omsien totdat die kleinwildkampie klaar gebou was. Hierdie bosvarkie, genaamd Bossie, was vreeslik mak en het sy slaappatroon verander deur bedags rond te loop wanneer die mense op is en hulle vir hom kos kan gee.
Die kampie is gebou en Bossie is in die kampie geplaas. Omdat die outjie egter gewoond was aan mense, wou hy nie in die kampie bly nie en hy het gate onderdeur die draadheining gegrawe en uitgegaan. Hy het orals tussen die huise rondgeloop en kos gesoek. Hy wou net by die mense wees. Hy was so mak dat die mense hom kon krap en vryf. Hy het nie eers padgegee vir voertuie wat hierdie bosveld dorp besoek het nie.
Omdat hy so mak was, en nie vir mense en ander diere bang was nie, het hy op `n dag toevallig dieselfde tyd as die vlakvarke by kos aangekom. Een van die groot vlakvarke het toe op hom afgestorm en Bossie met daardie skerp tande doodgemaak. Die inwoners op Leeupoort Vakansiedorp sal seker nog lank aan ou Bossie die bosvark dink wanneer ‘n bosvark gewaar word.