NATUUR – Termiete bestaan uit die wyfie koningin wat die grootste van al die termiete is, die mannetjie koning wat kleiner as die koningin is, die werkers wat daaglikse roetine take verrig soos die soek van kos, skoonmaak, versorging, bou en herstelwerk aan die termietnes, en laastens die soldate wat die neste verdedig.
‘n Koningin termiet word so dik soos `n varkworsie en sy kan ook nie rondloop nie. Sy is vol eiers en haar uitsluitlike doel is om te teel en duisende eiers te produseer wat deur werkers na broeikaste gedra word. Dit is net die koningin en koning wat reproduseer of teel, hoewel ander termiete ook uit twee geslagte bestaan. Die werkers en soldate teel egter nie. Die werkers moet werk en kos aandra terwyl die soldate beskerming moet bied.
Party mense noem die termiete “rysmiere” omdat die eiers soos ryskorrels lyk. Hulle word ook “witmiere”, in Engels “white ants” genoem en hul kleur wissel van roomgeel tot donkerbruin. Die meeste termiete is blind en hulle het nie die buitenste skelet van die mier nie. Sommige soldate het sekelvormige kake en ander het monddele wat ’n taai vloeistof uitspuit.
Dit is die egter die werkers wat skade aan houtstrukture aanrig. Baie termietspesies leef uitsluitlik van hout, maar talle spesies vreet ook gras, papier, graan, leer, wol en selfs linne, alles wat sellulose bevat. Vir die meeste diere is stowwe wat sellulose bevat onverteerbaar, maar in ’n termiet se maag is ’n menigte mikroskopiese protosoa wat dit afbreek.
Daardie groot miershoop met sy lang tuit word deur die werkers wat so klein is gebou. Dink net hoeveel van hulle moet aan `n miershoop van so 2 meter hoog bou. Dit is `n heel ander wêreld onder daardie miershoop wat onder die oppervlak uitgegrawe word met tonnels en gange in talle rigtings wat kamers met mekaar verbind. Hier is ook tuine met swamme, wat ’n voedselbron vir termiete is.
‘n Nes maak dit moontlik vir termiete om te oorleef in gebiede waar hulle andersins nie sou oorleef nie. Die soliede buitewande van die termietnes, wat uit grond bestaan wat met speeksel verhard is, verskaf isolasie teen die warm son en maak dit ’n doeltreffende vesting teen vyande. Binne die nes word temperatuur en suurstof gereguleer, onder meer deur werkers wat die lug-gange herhaaldelik oop- en toemaak om die mikroklimaat van hul wêreldjie te reguleer.
In Ifafapaadjie het termiete `n kombuiskas onder die wasbak per geleentheid opgevreet dat slegs die dop oorbly. Dit het in 3 maande se tyd gebeur terwyl die mense nie tuis was nie. Daar was `n miershoop van sowat 30 cm hoog binne die kas gebou. Dink net hoeveel werker-termiete daar moes gewees het en die skade wat aangerig kan word indien termiete se getalle nie in toom gehou word nie. Termiete se natuurlike vyande is onder andere spinnekoppe, wespes en natuurlik ook die erdvark.
Een termiet-kolonie kan ‘n area van tot vyf hektaar bewerk met verskeie ingange na ondergrondse tonnels. Dit baat dus nie om termiete binne een kol te bestry tensy dit ‘n klein nuwe kolonie is nie. Bestryding moet wydverspreid gedoen word. Verskillende middels moet met mekaar afwissel word om effektiewe beheer te kry indien ‘n termiet-plaag kunsmatig bestry moet word. Wees egter versigtig om nie sommer enige breë spektrum insekdoder te gebruik nie aangesien dit ook die termiet se natuurlike vyande kan affekteer.
Termiete kan nie groen gras met chlorofil verteer nie en veroorsaak derhalwe die meeste skade in die winter wanneer die gras dood en droog is. Dit help natuurlik om grasperke groen te hou, maar dit is nie altyd moontlik nie. Om ‘n termiet-kolonie uit te roei, moet jy die koningin doodmaak, maar gewoonlik weet niemand waar sy skuil nie. Enige bestrydingsaksie moet ook voor die lente reën afgehandel word, aangesien termiete dan vlerke ontwikkel om in groot getalle na ander gebiede te versprei. Die gevleuelde termiete verskyn gewoonlik saans na die eerste buie reën.
Die volgende video van ‘n miernes word vir interessantheidshalwe ingesluit. Dit is wel nie ‘n termietnes nie, maar gee mens tog ‘n idee van die omvang van ondergrondse neste.