Troupand

Troupand

TROUPAND – Veelkleurige voëls met ‘n stewige snawel. Hulle jag van uitkykposte soos boomtoppe of oop takke en is veral lief om op drade langs oop pad-reserwes te sit vanwaar hulle insekte vang deur af te duik grond toe of hulle vang prooi in die lug.

Hulle duik veral in ‘n tuimel beweging vandaar die engelse benaming ” roller”. Die geslagte lyk eenders. Hulle is alleen-broeiers en albei ouers broei en voer die kleintjies.Troupante broei in hol boomstamme in die veld en soms in termiet-hope.

Die gewone troupand is seker een van die mooiste voëls in Suidelike Afrika en beslis hier by ons op Leeupoort Vakansiedorp. Gewone troupante is nie trekvoëls nie en kan dwarsdeur die jaar op pad Thabazimbi toe op die drade langs die pad gesien word. Gewone troupante sal ‘n kras “tjak” herhaaldelik roep veral as hy opgewonde is of as daar indringers naby sy nes kom.

Die Ndebele koning, Mzilikazi, het hierdie voël as sy eie geproklameer en dit het vir lank as die Mzilikazi Roller bekend gestaan. Slegs hy mog van die vere in sy hooftooisel dra en enige ander persoon wat van die vere opgetel het, so het hulle geglo, sal ongeluk (bad luck) beleef.

Die Europese troupand is die enigste lid van die troupant-familie wat migreer in die winter en in Europa broei. Hierdie voël is ‘n lang afstand migreerder wat hier in Suidelike Afrika kom oorwinter.

(Dirk en Miekie Maree, Leeupoort Vakansiedorp)